Gesamentlike Resepteboek · 1995

Resepte­boek

Gesamentlike resepte van geliefde vroue

Opgedra aan

Hierdie boek word met liefde en dankbaarheid opgedra aan die vroue wat elkeen 'n stuk van hul hart saamgestuur het in hierdie resepte —

aan Ma, aan Tannie, en aan Vriendin se Ma.

Julle hande het kos gemaak; julle liefde het tuistes geskep.

Ronet Terblanche Nora Dickson Annette Herselman Elaine Fourie Lulu Bradley P. Muller Yolanda van Wyk Leonora Claassen La-Rhyn Erasmus Elmarie Roux Tania Cowley

Spesiale dank aan La-Rhyn Erasmus · Sonder haar kon die boek nie voltooi word nie

Verwysing

Afkortings & Mate

Afkortings

kkoppie
eeetlepel
tteelepel
'n knippieminder as ⅛ teelepel
lliter
mlmilliliter
kgkilogram
ggram
cmsentimeter
mmmilimeter
pdpond
onsonse

Korrekte Hoeveelhede

250ml melk= 1 koppie
200g suiker (250ml)= 1 koppie
100g meelblom (250ml)= ¾ koppie
12,5ml room= 1 eetlepel
5g sout= 1 teelepel
1,5g bakpoeier (2ml)= ½ teelepel
500mg peper (1ml)= ¼ teelepel

Mate en Gewigte

1pd aartapels= 4 middelmatige aartapels
1pd botter= 2 koppies
½ ons suiker= 1 eetlepel
8 onse water= 1 koppie
01

Voorgeregte & Slaaie

Starters · Voorgereg · Slaai

Visvinger Gereg

Bestandele

  • 1 pakkie sampioensoppoeier
  • 1 ui
  • 4 tamaties
  • 250ml room of dik witsous
  • 16 visvingers
  • 30ml margarien

Metode

Sny die ui fyn en braai in margarien. Skit tamaties of sny in skywe en voeg by uie en braai. Plaas bevrore visvingers in gesmeerde bak. Skep helfte van tamatie mengsel oor visvingers. Meng sop en room. Giet bo-oor, gevolg deur res van tamatie mengsel. Bak sonder deksel op 180°C vir 20 minute.

Viskoekies

Bestandele

  • 1 blik sardyne in tamatiesous
  • 1 fyngekapte ui
  • 60ml meel
  • 2 eiers, geklits
  • blatjang na smaak
  • olie vir braai

Metode

Maak vis (saam met sous) fyn. Voeg die eiers, ui en blatjang by en meng. Roer meel by en meng. Skep lepels vol in warm olie en braai tot bruin en gaar.

Tuna en Piesangvoorgereg

Bestandele

  • 1 blik (450g) tuna gevlok
  • 50ml mayonnaise
  • ingelegte uitjies en agurkies
  • blaarslaai (fyngekap)
  • 3 piesangs in skyfies (bedruip met suurlemoensap)
  • 50ml wit uiesop (droog)

Metode

Meng al die bestandele saam. Spoel blaarslaai skoon af en sit onder in voorgereg kelkie of skulp. Skep die mengsel bo-op en versier met 'n takkie pietersielie.

Paprika Schnitzel

Bestandele

  • 2e botter
  • paprikapoeier
  • 3 uie, gesny
  • 750g skyfies kalfvleis
  • ¼k meel (gegeur met sout en peper)
  • ½k suur room

Metode

Braai uie in botter, voeg paprika by. Paneer vleis in meel, plaas op uie en stowe met deksel tot sag (30 minute). Roer ¼k water in indien nodig. Haal vleis uit, hou warm, roer in uiesous en bedien apart.

Wiener Schnitzel

Bestandele

  • 8 baie dun skyfies kalfvleis, vark, of skaapvleis (moenie vries nie)
  • meel
  • geklitste eiers
  • fyn krummels
  • ¼k olie
  • sout na smaak
  • ansjovismootjies
  • suurlemoenskyfies
  • Opsioneel: 1e gerasperde parmesaanse kaas by die eier

Metode

Rol in meel, dan in geklopte eiers, dan in fyn krummels. (Dit kan 'n paar uur voor ete gedoen word.) Verhit ¼k olie in 'n pan. Braai vinnig gaar aan albei kante en strooi sout na smaak oor. Pak op warm bord. Versier met opgerolde ansjovismootjie bo-op 'n suurlemoenskyfie.

Lewerkoekies

Bestandele

  • 500g lewer (skaap, kalf of bees)
  • 1 middelmatige ui
  • 2 eiers
  • 1e asyn of suurlemoensap
  • 1t sout
  • ¼t peper
  • 1t gekapte pietersielie
  • vet of olie om in te braai

Metode

  1. Maak lewer skoon en sny in stukke.
  2. Sny die ui in skywe en maal die lewer en ui saam of maal die lewer en kap die ui fyn, en voeg dit by die lewer.
  3. Voeg die asyn, sout, peper en gekapte pietersielie by.
  4. Klits die eiers en voeg dit by. Meng alles saam.
  5. Verhit 'n braaipan en smelt genoeg vet daarin om die bodem van die pan te bedek.
  6. Skep die lewermengsel met 'n lepel in die warm vet en laat dit aan die een kant bruin braai. Draai die koekies versigtig om met 'n slaplem-mes en laat hulle aan die ander kant bruin braai.
  7. Dien baie warm op.

Denny Sampioene in Vulsel

Bestandele

  • 250g Denny Mushrooms
  • Vulsel

  • 1 eier
  • 1 koppie melk
  • 1 koppie bruismeel
  • 1 eetlepel gemengde kruie
  • 1 eetlepel sout en swart peper en knoffel

Metode

Klits eier en melk goed. Meng al die bestandele tot loperige deeg. Laat staan so lank as moontlik met sampioene in deeg en braai in olie.

Salmkelkie

Bestandele

  • 2 blikkies salm (500g)
  • 125g maaskaas
  • 2 appels
  • 1 ui
  • 2 koppies mayonnaise
  • 1 koppie tamatiesous
  • 2 eetlepels sjerrie
  • 1 eetlepel gekapte pietersielie

Metode

Maak vis fyn met 'n vurk. Rasper appels en ui. Meng vis, appels, ui en maaskaas. Meng mayonnaise, tamatiesous en sjerrie. Roer 1½k sous by vismengsel. Skep in viskelkie. Gooi 1 lepel sous oor elke kelkie. Garneer met pietersielie.

Aartappels in die Skil

Bestandele

  • 12 kleinerige aartappels met skil
  • 250g botter
  • 1 pakkie uiesoppoeier (69g)

Metode

Sny gleuwe in aartappels. Strooi soppoeier oor. Smelt botter, gooi oor aartappels. Gebruik vuurvaste oondskottel en maak gaar in 'n matige oond. Baie lekker om by 'n braaivleis of as voorgereg te bedien.

Visslaai

Bestandele

  • 1½kg witvis, gekook en gevlok
  • 4 gekapte uie, gebraai
  • 2e olie
  • 60ml kondensmelk (¼k)
  • 1 suurlemoen se sap
  • sout en peper
  • ½t aromat
  • 375ml mayonnaise (1½k)

Metode

Meng al die bestandele saam. Bedien op slaaiblare en strooi paprika oor.

Skulpieslaai

Bestandele

  • 8 onse noedelskulpies
  • ½ gemaalde groenrissie
  • 1 klein gemaalde ui
  • ½k mayonnaise
  • 2e tamatiesous
  • blaarslaai

Metode

Kook die skulpies, water af en meng dit goed deur met groenrissie en uie. Roer tamatiesous en mayonnaise in, verkoel en dien op, op 'n laag kraakvars slaaiblare.

Piesangslaai

Bestandele

  • 3 groot uie
  • 5ml mosterdpoeier
  • 5ml kerriepoeier
  • sout en peper na smaak
  • 50ml asyn
  • 8–10 ryp piesangs
  • 25g margarien
  • 750ml kookwater
  • 125ml sagte bruin suiker
  • 25ml koekmeel
  • 50ml koue water
  • 125ml wit suiker

Metode

Braai uie in groterige kastrol in botter of margarien tot sag. Meng bruin en wit suiker, koekmeelblom, mostertpoeier, kerrie, sout en peper, asyn en kookwater saam. Voeg by uiemengsel en kook 3 minute lank. Laat afkoel, sny piesangs in en bedien warm of koud.

Koperwortel Slaai

Bestandele

  • 1kg wortels
  • 2 uie
  • 1 groenrissie, ontpit en in ringe gesny
  • Sous

  • 82g (1 pakkie) tamatiesop
  • 250ml water
  • 200ml asyn
  • 80ml worcestersous
  • 125ml kookolie
  • 250ml suiker
  • 7ml mostertpoeier
  • sout en peper na smaak
  • 5ml aromat

Metode

Kook wortels halfgaar (nie pap nie), spoel af onder koue water en laat heeltemal afkoel. Pak dan in lae en eindig met wortels.

Kook bestandele van sous vir 2 minute saam en gooi kokend oor die slaai (laat goed inloop). Maak toe en plaas in yskas vir minstens 2 dae voor gebruik.

Aartapelslaai

Bestandele

  • 6 middelslag aartapels, gekook, skil afgetrek
  • 250g spekvleis in stukkies
  • 2 groot uie, fyngemaak
  • 3 groot tamaties, fyngekap
  • 1k room, effens geklop
  • 1½k gerasperde kaas

Metode

Braai spekvleis, uie en tamaties tot gaar. Sny aartapels in skywe en voer vuurvaste bak met laag aartapels. Voeg lagie van bredie oor aartapels, dan lagie kaas. Weer eens laag aartapels met oorblywende bredie en kaas. Gooi room egalig oor en bak in oond van 180°C tot kaas en room deurgebak is.

Koringslaai

Bestandele

  • 200g stampkoring
  • 125ml mayonnaise
  • 410g perskeskywe (1 blik)
  • 1t aromat
  • sout en peper na smaak
  • 3ml mostertpoeier
  • 1 middelslag ui
  • 1 kookappel
  • 1 soetrissie

Metode

Kook koring sag. Gooi in vergieter en spoel met koue water. Dreineer goed. Meng mayonnaise en mostert. Kap ui, sny appel in dobbelsteentjies, sny soetrissie in repe en sny perskeskywe in halwes. Plaas al die bestanddele in slaaibak. Geur met sout, peper en aromat en meng alles met twee vurke. Kan vorige aand gemaak word.

Paddastoelslaai

Bestandele

  • 1 middelmatige klein tamatie
  • 1 hardgekookte eier, afgedop
  • fyngekerfde slaaiblare
  • mayonnaise

Metode

Was en sny 'n skyf aan die stingelkant van die tamatie af en skep 'n gedeelte van die binneste uit, sodat dit net op die eier sal pas. Sny 'n klein skyfie van die eier aan die een kant af, sodat dit regop sal staan. Sit nou die tamatie bo-op die eier en laat dit regop staan op die gekerfde slaaiblare. Maak klein kolletjies met die mayonnaise op die hele oppervlakte van die tamatie. Dien met mayonnaise of slaaiblare.

Sous vir Piesangslaai

Bestandele

  • 3 eiers
  • 10ml mostertpoeier
  • knypie sout
  • 125ml wit asyn
  • 250ml suiker
  • 250ml ingedampte melk

Metode

Klits die eiers, asyn, suiker, mostertpoeier en sout saam in 'n kastrol tot goed gemeng. Verhit dit oor matige hitte tot dik en roer gereeld. Haal van stoof af sodra dit begin kook. Laat die mengsel afkoel. Voeg die ingedampte melk by en meng. Gooi in fles en bewaar in yskas tot benodig. Kan tot 2 weke in yskas hou. Dit lewer 700ml sous.

02

Hoofgeregte

Vleis · Vis · Pasteie

Vleisbroodjie

Bestandele

  • 750g gemaalde beesvleis
  • 250g varkworsies (sonder vel)
  • 2 eiers
  • 1 dik sny brood, geweek in water
  • 2t sout
  • 1 klein ui, gekap
  • ¼t peper
  • ¼t paprika

Metode

Meng al die bestandele goed. Vorm die mengsel soos 'n broodjie, rol dit in droë broodkrummels of fyngemaakte ontbytvlokkies en plaas dit in 'n gesmeerde, vuurvaste bakskottel. Bak dit tot 1¼ uur lank in 'n matige oond by 180°C. Dien warm op 'n vleisskottel en versier rondom met aartapels (kapok aartapels), gebraaide pynappelskywe of gebraaide tamatieskywe. Kan ook koud opgedien word saam met slaai.

Hollandse Vleisrol

Bestandele

  • 1kg maer beesvleis
  • 2 eiers
  • 1t droë mostert
  • 2t sout en ½t peper
  • 2t gemengde kruie
  • 1k broodkrummels

Metode

Maal die vleis, voeg al die ander bestandele by en meng goed. Sit dit in 'n lang, vuurvaste bakskottel, voeg 2e water by en bak 1 tot 1½ uur lank in 'n matige oond by 180°C. Dien dit warm op. Indien verkies kan 'n laag tamatiesous bo-oor gesmeer word 15 minute voor dit uit die oond gehaal word, of 'n laag pynappelskywe kan onder in die gesmeerde bakskottel gesit word. Bak en keer die rol uit voordat dit opgedien word.

Japtrap Sardyngebak

Bestandele

  • 250g macaroni, gaargemaak en gedreineer
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 1 groen soetrissie, fyngekap
  • olie
  • 1 blik sardyne in tamatiesous, fyngemaak
  • 5ml droë gemengde kruie of pietersielie
  • 100–125ml mayonnaise
  • sout en peper na smaak
  • 125–250ml gerasperde cheddar kaas

Metode

Voorverhit oond tot 180°C. Smeer oondvaste bak. Skep macaroni in bak. Soteer ui, knoffel en soetrissie in die olie tot sag. Voeg sardyne in sous by en geur met gemengde kruie of pietersielie. Voeg die mayonnaise by en meng goed. Geur na smaak met sout en peper. Skep oor macaroni en meng liggies. Sprinkel kaas oor en bak sowat 20 minute of tot gereg lekker warm is en die kaas gesmelt is. Dien op saam met slaai.

Vis Aartapelpastei

Bestandele

  • 1 groot ui, gekerfde en gebraai
  • 2 tamaties, gesny
  • 1 blik sardyne in tamatiesous
  • 1 eier, geklits
  • sout en peper
  • kapokaartapels
  • botter (klonte)
  • gerasperde kaas (opsioneel)

Metode

Braai ui en tamaties effens in bietjie olie. Meng sardyne in tamatiesous en geklitste eier met uie en tamatie. Geur met sout en peper. Maak kapokaartapels en skep in 'n gesmeerde bak. Skep vismengsel bo-op en sit weer laag aartapels op vis. Sit 'n paar klonte botter bo-op en 'n laag gerasperde kaas indien verkies. Bak op 180°C vir 10 tot 15 minute.

Beef, Macaroni, Kaas

Bestandele

  • 1 pak (500g) macaroni
  • olie, sout en peper
  • 1 ui, fyn gekap
  • 2 groot ryp tamaties, ontvel en opgekap
  • 1 blik (300g) boeliebeef, in blokkies
  • 75ml botter
  • 75ml koekmeelblom
  • 750ml melk, effens verhit
  • 50ml fyn gekapte pietersielie
  • 50ml blatjang
  • 10ml gemengde kruie
  • 100g kaas, gerasper
  • 50ml vars broodkrummels

Metode

Voorverhit oond tot 180°C. Spuit oondvaste bak. Kook macaroni in soutwater met olie tot net sag. Soteer ui in verhitte botter tot sag. Voeg koekmeelblom by en roer tot glad. Verwyder van hitte en voeg melk stadig by terwyl geroer word. Verhit tot dik. Voeg res van bestandele, behalwe broodkrummels en helfte van kaas, by. Meng met macaroni. Skep in bak. Meng orige kaas met broodkrummels en strooi bo-oor. Bak 20 minute. Genoeg vir 10–12 mense.

Herderspastei

Bestandele

  • 500g basiese maalvleismengsel
  • 500g bevrore gemengde groente, effens ondooi
  • 4 aartapels, sag gekook
  • melk
  • botter
  • neutmuskaat

Metode

Voorverhit oond tot 180°C. Meng maalvleis en gemengde groente. Skep in oondvaste bak. Maak aartapels fyn saam met 'n bietjie melk en botter. Geur met neutmuskaat. Skep oor maalvleis. Bak sowat 30 minute lank of tot goed warm. Genoeg vir 4 mense.

Herderspastei

Bestandele

  • ½kg maalvleis
  • 3 klein uie
  • 1e matige kerriepoeier
  • 1 blik bone in tamatiesous
  • 1 pakkie Royco sop (enige geur)
  • aartapels, fyngedruk

Metode

Kook maalvleis en uie saam. Kook aartapels genoeg om bo-op te sit voor bak. Voeg kerriepoeier by maalvleis. Meng sop met 1 koppie kookwater en voeg by maalvleis. Voeg blikkie bone by. Kook 5 minute. Druk aartapels fyn. Sit maalvleis mengsel in glasbak en pak fyngedrukte aartapels bo-op. Bak tot punte bruin word.

Eenbak Maalvleisgereg

Bestandele

  • 500g maalvleis
  • 250ml koue water
  • 100ml blatjang
  • 250ml rou rys
  • 500ml kookwater
  • 5ml sout
  • 2ml peper
  • 1 blik (410g) minestrone sop
  • 1 blik (285g) geroomde sampioene

Metode

Voorverhit oond tot 180°C. Smeer oondvaste bak. Meng maalvleis, koue water, sout en peper en kook vinnig sonder deksel totdat vloeistof verdamp het, roer af en toe. Skep maalvleis in bak. Bedek vleis met blatjang. Strooi rys bo-oor. Gooi sop oor, dan sampioene en laaste die kookwater. Sit deksel op of bedek met foelie. Bak 1½ uur of tot gaar.

Lewer in Suursous

Bestandele

  • 500g lewer
  • 50ml koekmeelblom
  • 50ml asyn
  • 12,5ml suiker
  • 375ml water
  • 25ml olie, botter of margarien
  • 5ml sout
  • 1ml peper
  • 5ml aromat

Metode

Doop die lewer in kookwater, trek die vleis af en sny in stukkies van ongeveer 20×20×10mm. Braai alkante bruin. Strooi die meelblom oor en roer dit in. Voeg die res van die bestandele by en laat 15 minute lank stadig kook.

Bobotie en Geelrys

Bestandele

  • 1 pond maalvleis
  • 1 klein ui, opgesny
  • 1 snytjie brood (dik, geweek in ¾k melk)
  • 1t sout
  • 2e botter
  • 2 eiers
  • 1e kerriepoeier
  • 1e asyn
  • 1e blatjang
  • 1t suiker

Metode

Braai uie in botter tot goudbruin. Voeg kerriepoeier, sout, suiker, asyn, blatjang en maalvleis by. Dreineer melk van die brood en druk fyn met 'n vurk. Voeg by die mengsel. Voeg 1 geklitste eier by en meng goed saam. Sit in 'n vuurvaste skottel. Geur met sout en peper en gooi die orige eier by die melk wat oor gebly het, en gooi oor die mengsel. Sit klein stukkies botter bo-op en bak by 180°C vir 30 minute.

03

Hoendergeregte

Chicken Dishes · Pluimvee

Hoender Risotte

Bestandele

  • 4–6 dye van hoender
  • 2–3 koppies gemengde groente
  • peri-peri speserye na smaak
  • 1 koppie rys
  • 1 ui
  • sout en peper na smaak

Metode

Kook hoender tot gaar, maar moenie water weggooi nie. Pluis uit die hoender en sorteer in groot plat bak. Braai ui in botter saam met gemengde groente in hoenderwater tot water opgedroog het. Gooi rysmengsel oor hoender en rasper kaas bo-oor. Bak tot bruin op 180°C.

Hoender Spaghetti

Bestandele

  • 4 repe spekvleis, in blokkies
  • 1 groot ui, in ringe
  • 1 groen soetrissie, in blokkies
  • 250ml droë rooi wyn
  • knippie fyn naeltjies
  • knippie neutmuskaat
  • 15ml suiker
  • 1kg gaar hoender, ontbeen en in stukke
  • 1 pak (200g) knopiesampioene, in skyfies
  • 1 blik (410g) tamatiepuree
  • 30ml worcestersous
  • 5ml wonderpeper
  • 10ml paprika
  • sout en swartpeper na smaak
  • 1 pak (500g) spaghetti, saggekook
  • cheddar-kaas (opsioneel)

Metode

Braai die spekvleis tot gaar, voeg die ui, soetrissie en sampioene by en soteer tot sag. Voeg die tamatiepuree, wyn en geurmiddels by en prut tot 'n geurige sous. Voeg die hoenderstukke by en prut tot warm. Skep die spaghetti, sous en kaas apart op en dien op. Genoeg vir 6 mense.

Sjerrie Hoender

Bestandele

  • 2 gaar hoenders, in porsies
  • 2e botter
  • ½k sjerrie
  • 4 geklitste eiergele
  • 1 pk room

Metode

Smelt 2e botter, voeg ½k sjerrie by. Voeg 4 geklitste eiergele en 1 pk room by. Roer deur 2 gaar hoenders in porsies. Skep uit in bedienskottel, gooi orige sous oor. Bedien koud.

Amerikaanse Pynappel Hoender

Bestandele

  • 2 hoenders, ontbeen
  • 1 blik pynappelstukke (1kg)
  • Sous

  • sap van pynappelstukke
  • ½k bruinsuiker
  • 4e mielieblom
  • 2t sout
  • 1k asyn
  • 1t worcestersous
  • 2t sojasous
  • 3t rissiesous

Metode

Kook sous tot dik. Pak hoenderstukke in gesmeerde oondskottel. Strooi sout en peper oor. Voeg pynappelstukke by. Skep sous oor. Maak toe en bak 1 uur by 180°C. Haal deksel af en bak nog 1 uur.

Blatjanghoender

Bestandele

  • 1 groot hoender
  • ½k mayonnaise
  • ½t sout
  • 1 pak bruin uiesop (69g)
  • ½k blatjang

Metode

Sny hoender in porsies, of gebruik dye of boudjies, pak in vuurvaste skottel. Meng mayonnaise, soppoeier en blatjang in aparte bak. Giet oor rou hoender, tesame met sout. Plaas deksel op en bak 1 tot 2 ure op 180°C vir eerste uur en daarna 140°C met deksel af.

Kentucky Hoender

Bestandele

  • 1 hoender, in stukke gesny
  • koekmeel
  • sout en peper
  • fondor geelsout
  • fyn naeltjies
  • gemengde kruie
  • braaivleis speserye
  • knoffelsout
  • olie vir braai

Metode

Maak 'n mengsel van die meel en speserye en meng deeglik. Rol dele van hoender in die mengsel en bak in 'n pan wat ¼ vol olie is totdat dit goed gebak is buite-om. Plaas in 'n oondskottel en bak vir ongeveer 'n uur oor lae hitte. Kan warm of koud opgedien word.

Hoender 'A'la'King

Bestandele

  • 1 groot hoender
  • 2 uie, fyn gekap
  • 1 blikkie geroomde sampioene
  • 1 pakkie hoenderroomsop
  • 1 blokkie hoender ekstrak
  • 50g margarien
  • 25ml fyn gekapte pietersielie

Metode

Kook hoender met ekstrak in soveel kookwater dat daar uiteindelik 400ml sous is wanneer die hoender gaar is. Ontbeen hoender en sny vleis in stukkies. Braai uie in botter tot sag. Voeg sampioene en pietersielie by. Meng soppoeier met 250ml van die hoendersous en roer by uiemengsel. Voeg res van sous by wanneer mengsel dik is, roer en laat opkook. Voeg hoendervleis by, verlaag hitte en prut 10 minute. Roer af en toe.

Spaanse Hoender Paella

Bestandele

  • 1 hoender, gekook en ontbeen
  • 1 pak sampioenroomsop
  • 2 groot uie
  • 500ml hoenderaftreksel
  • 1 blik ertjies (385g)
  • 4 groot tamaties
  • 250g skulpies noedels
  • 250g spek
  • 10ml borrie

Metode

Braai gekerfde uie. Voeg dan gesnyde spek by. Voeg ook tamaties in blokkies by en laat stowe. Voeg hoender by. Meng hoenderaftreksel met sop en geur met borrie. Voeg by vleismengsel. Kook noedels sag in soutwater en voeg saam met ertjies by vleis. Laat prut vir 10 minute. Bedien met groenslaai. Kan gevries word.

Hoendergereg Peri-Peri

Bestandele

  • 1 hoender
  • 1t droë mostert
  • 3t paprika
  • 1t rooipeper (2t vir sterk)
  • ½k olie
  • ½k asyn
  • 1t tamatiesous
  • 3t worcestersous

Metode

Maak 'n marinade van al die bestandele en gooi oor die hoender. Laat staan vir 'n paar uur en bak gaar in die oond.

Kerriehoender

Bestandele

  • 1 hoender
  • suurlemoensap
  • 25ml suiker
  • knypie peper
  • 400ml koue water
  • 50ml blatjang
  • 50g koekmeelblom (100ml)
  • 25ml kerriepoeier
  • 5ml sout
  • 1 pakkie sampioensoppoeier (55g)
  • 125ml tamatiesous
  • 50ml worcestersous

Metode

Was hoender en droog af. Sny in porsies en bedruip met suurlemoensap. Meng koekmeelblom, kerriepoeier, suiker, sout en peper. Rol hoenderporsies in meelmengsel tot goed bedek. Plaas in groot oondskottel met deksel en laat 'n halfuur staan. Meng soppoeier, water, tamatiesous, blatjang en worcestersous. Gooi mengsel oor hoenderporsies. Sit deksel op, stel oond op 180°C en bak 'n uur of totdat vleis sag is. Sit voor met rys.

Heerlike Hoendergereg

Bestandele

  • 10 hoenderdye
  • 125ml blatjang (½k)
  • 200ml water (¾k)
  • 1 pakkie beesstert soppoeier (69g)
  • 1 pakkie dik groentesoppoeier (69g)

Metode

Meng die beesstert- en groentesoppoeier. Rol elke hoenderporsie in die soppoeiermengsel totdat dit dik daarmee bedek is. Pak die hoenderporsies in 'n oondkasserol met 'n deksel. Meng die water en blatjang. Gooi bo-oor die dye. Sit die deksel op en bak die vleis 45 minute op die middelste oondrak. Haal die deksel af en bak verder totdat die dye begin verbruin. (Onthou, geen sout aangesien soppoeier alreeds sout in het.)

04

Poedings

Koue Poedings · Warm Poedings · Nagereg

Piesang Roomys

Bestandele

  • 375ml room, effens geklits
  • 375ml melk
  • 15ml suurlemoensap
  • 2ml vanielje geursel
  • 1 blik (379g) kondensmelk
  • 3 ryp piesangs, geskil en fyngemaak

Metode

Gooi kondensmelk, room en melk in mengbak en roer tot goed gemeng. Meng piesangs, suurlemoensap en vanieljegeursel en gooi by kondensmelkmengsel. Meng baie goed. Gooi mengsel in diep koekpan of houer en vries totdat dit begin verhard en 'n soliede rand sowat 2cm van die kant af vorm. Skep mengsel in koue bak en klop totdat yskristalle opbreek en mengsel gladde tekstuur het. Gooi terug in houer, bedek met blaadfoelie en vries tot stewig.

Idealpoeding

Bestandele

  • 1 blik koue idealmelk, geklits (bietjie suiker)
  • 1 pak rooi jellie (aangemaak met 1k kookwater, heeltemal afgekoel)
  • 1 houer (500ml) aarbei yoghurt
  • 1 houer (250ml) styf geklopte room

Metode

Klit alles saam. Plaas in yskas.

Koejawel Roompoeding

Bestandele

  • 2 pakkies suurlemoen jellie
  • 3k melk
  • 2k koejawels
  • 1 dessertlepel gelatien
  • ½k vars room
  • 1k kookwater
  • 4 eiers
  • 2e mielieblom

Metode

Los jellie in kookwater op. Maak vla van melk, mielieblom en eiergele. Week gelatien in 'n bietjie koue water. Vou jellie en gelatien by vla in. Maak jellie met 1k kookwater aan. Roer koejawels in. Wanneer dik word, roer room en styfgeklitste eierwitte in. Skep in bak en laat stol in yskas.

Sneeupoeding

Bestandele

  • 2 eiers (wit en geel apart)
  • 1k suiker
  • 1e gelatien
  • ¼k koue water
  • 1k kookwater
  • ¼k suurlemoensap
  • gerasperde geel skil van ½ suurlemoen

Metode

Week die gelatien in die koue water en los dit op in kookwater. Voeg die suiker, suurlemoensap en die skil by. Gooi die mengsel deur 'n sif en laat dit op 'n koel plek afkoel. As die mengsel amper styf is, klits dit met 'n vurk of eierklitser tot dit lig en sponserig is. Klits die wit van die eiers styf en vou dit in. Gooi dit in 'n nat vorm of skep lepelsvol in 'n poedingbak. Maak 'n vlae-sous van die eiergele.

Perskeroom

Bestandele

  • 2e gelatien
  • 6 ryp perskes
  • ½k fyn suiker
  • ¼k koue water
  • ¾k kookwater
  • 1k room

Metode

Week die gelatien in die koue water en los dit in die kookwater op. Skil die perskes en druk hulle met 'n vurk fyn. Voeg die suiker by. Voeg die gelatien by die perskemoes en meng dit goed. Vou die geklopte room in as mengsel begin stol. Laat dit in 'n groot poedingvorm of in afsonderlike glasies stol.

Piesang-Kitspoeding

Bestandele

  • Piesangs
  • Farmers Pride kitsvlae
  • Farmers Pride romerige kitsversiersel
  • gekapte glanskersies
  • neute

Metode

Sny 'n paar piesangs in skyfies in 'n bak. Berei die Farmers Pride kitsvlae voor soos beskryf op die pakkie en giet oor die piesangskyfies. Berei die Farmers Pride romerige kitsversiersel soos beskryf, skep in 'n spuitsak en versier die poeding daarmee. Sprinkel gekapte glanskersies en neute oor en verkoel.

Skrikkeljaarpoeding

Bestandele

  • 3e botter of margarien
  • ½k suiker
  • 1k meelblom
  • 2t bakpoeier
  • 2 eiers
  • 2e strooisuiker
  • 1¼k koue melk
  • 3e appelkoos of aarbei konfyt
  • ¼t sout

Metode

Meng die botter, suiker, meelblom, bakpoeier, geel van die eiers en 'n klein hoeveelheid melk, soos vir botterkoek. Sit die mengsel in 'n vuurvaste bakskottel en bak dit 30 minute lank of tot gaar in 'n matige oond. Haal dit uit, gooi die koue melk bo-op, smeer die konfyt daarop en smeer die styfgeklopte wit van die eiers (met suiker) bo-oor. Bak dit weer in 'n matige oond tot die skuim bo-op goudbruin is.

Sjokolade Poeding

Bestandele

  • ¾k suiker
  • 1k meelblom
  • 2t bakpoeier
  • ⅛t sout
  • 3e botter
  • 2e kakao
  • ½k melk
  • ½t vanilla
  • ½k geelsuiker (bo-oor)
  • ½k witsuiker (bo-oor)
  • 1k kookwater (bo-oor)

Metode

Sif droë bestandele saam. Smelt botter en voeg dan vanilla en melk by. Meng liggies en gooi in gesmeerde bakskottel. Strooi ½k geelsuiker, ½k witsuiker en kakao bo-oor deeg — moenie meng nie, gooi net bo-oor en dan 'n koppie water. Bak in 'n matige oond vir omtrent 40 minute en laat 'n rukkie staan as dit uitkom. Dien!

Sagopoeding

Bestandele

  • 4k melk
  • 2e botter
  • 4 eiers
  • appelkooskonfyt
  • 1k sago
  • ¾k suiker
  • 1t vanielje geursel
  • knippie sout

Metode

Stel oond op 180°C. Kook melk, suiker, sout en sago totdat sago deurskynend is. Laat effens afkoel. Roer botter by. Voeg effens geklitste eiergele en geursel by. Skep in gesmeerde vuurvaste bakskottel. Smeer appelkooskonfyt bo-oor. Klits eierwitte styf met 6e suiker. Skep bo-op konfyt en bak tot ligbruin.

Malva Poeding

Bestandele

  • 1k bruismeel
  • 1k suiker
  • 1k melk
  • 1e botter
  • 1t appelkooskonfyt
  • 1 eier
  • 1t koeksoda
  • 1t suurlemoensap
  • knippie sout
  • Sous

  • 1k room
  • 1k suiker

Metode

Room botter en suiker. Voeg geklopte eier by. Klop goed. Voeg suurlemoensap, appelkooskonfyt en koeksoda by. Roer nou meelblom en melk om die beurt by. Bak teen 180°C tot gaar. Gooi dan sous oor en bak vir rukkie tot karamelagtig.

Karamel Poeding

Bestandele

    Sous

  • 1k (blik) idealmelk (410g)
  • 1½k suiker
  • 1½k melk
  • Deeg

  • 2e botter
  • 8e meelblom
  • 6e suiker
  • 2 eiers
  • 2e appelkooskonfyt
  • 1k melk
  • 2t koeksoda

Metode

Sous: Bring net tot voor kookpunt in diep kastrol.

Deeg: Room botter en suiker. Gooi 2 eiers in. Dan konfyt. Sif meelblom om die beurt met melk by. Laaste kom koeksoda aangemaak met bietjie lou melk. Gooi mengsel dan in souskastrol en bak in matige oond ¾ uur. Moenie deksel opsit nie. Moet in 'n diep kastrol gebak word.

Asynpoeding

Bestandele

  • ½k botter
  • ½k suiker
  • 1t koeksoda
  • 1e fyn appelkooskonfyt
  • 1½k meelblom
  • ½k melk
  • knypie sout
  • 1 eier
  • Sous

  • 1k suiker
  • 1½k lou water
  • 4e asyn

Metode

Meng die botter en die suiker. Voeg die gesifte meel, koeksoda en sout om die beurt met die melk by. Voeg die konfyt en geklitste eiers by. Gooi die deegmengsel in 'n bakskottel en gooi dan die sous bo-oor. Meng sous: roer al die bestandele tot suiker gesmelt is. Bak in 'n matige oond tot dit gaar is.

Gebakte Roly-Poly

Bestandele

  • 1k botter
  • 2k meelblom
  • ¼k melk
  • 2 eiers
  • 1t bakpoeier
  • fyn appelkooskonfyt
  • knippie sout
  • Sous

  • 3k water
  • 1k suiker
  • 2e botter

Metode

Sif die droë bestandele saam en vryf die botter liggies in. Klits eiers goed en voeg die melk by. Voeg dit by die droë bestandele en meng goed. Rol die deeg dun uit en smeer die konfyt bo-oor. Rol dit op soos 'n rolkoek en plaas dit in 'n gesmeerde, vuurvaste bakskottel. Kook 3k water, 1k suiker en 2e botter vir 5 minute saam en gooi oor. Bak in matige oond by 180°C vir 1 uur lank. Bedien warm of koud.

Sagopoeding

Bestandele

  • 2k melk
  • ½k suiker
  • 1e botter
  • 4e sago
  • 3 eiers
  • vanilla geursel na smaak

Metode

Kook melk, suiker en botter saam. Voeg afgewaste sago by en laat stadig kook. Roer tot deurskynend. Haal af van stoof en laat 'n bietjie afkoel. Voeg eiergele by en roer goed. Voeg styfgeklopte eierwitte by. Giet in bak en sit klein stukkies botter aan kante. Bak in matige oond van 180°C tot goudbruin.

Geheime Gemmerpoeding

Bestandele

  • 2 pakkies (200g elk) gemmerkoekies
  • 750ml vars room

Metode

Plaas koekies in lae in oondvaste bak van nagenoeg 20×20×5cm. Giet die room oor. Bak dit ongeveer 15–20 minute in voorverhitte oond by 180°C. Sit dit warm voor met ekstra room indien verkies.

05

Geregte vir Teetafel

Koeke · Muffins · Skons · Brood

Sponskoek

Bestandele

    Room

  • 5 eiers, kamer temperatuur
  • 1½k suiker
  • ½t sout
  • 1t vanieljegeursel
  • Sif goed saam

  • 2k meel
  • 4t bakpoeier
  • Kook

  • 1k water
  • ¼pd botter
  • 1e olie

Metode

Voeg meel by eiers en suiker. Voeg bottermengsel by. Meng goed. Bak in oondpan op 180°C vir 20–30 minute.

Skons

Bestandele

  • 2k meel
  • 2t bakpoeier
  • 2 eiers
  • 2e suiker
  • 2e botter
  • genoeg melk om 1½k vol te maak (saam met eiers)

Metode

Klits eiers met genoeg melk om 1½k vol te maak. Voeg by meel en ander bestandele en werk deur met vurk. Moenie uitrol nie, maar skep met lepel in gesmeerde pan. Bak vir omtrent 10 minute in oond op 180°C.

Afrikaner Koek

Bestandele

  • geel van 2 eiers
  • 1½e suiker
  • 1½e meelblom
  • 1e melk
  • sap van ½ suurlemoen

Metode

Klop wit van eier styf, roer saam met geel, voeg ander bestandele by. Bak in 'n oond op 180°C. Omtrent 15 minute.

Bran Muffins

Bestandele

  • 4 groot eiers
  • 3k sagte bruin suiker
  • 4k melk
  • 5k koekmeel
  • ½t sout
  • ¾k olie
  • 4k all bran flakes
  • 1t vanilla geursel
  • 5t koeksoda
  • Opsioneel: 250g rosyntjies of dadels

Metode

Klits eiers en suiker tot romerig. Voeg olie by en meng goed. Meng all bran flakes, meel, koeksoda en sout saam. Meng om die beurt met die melk by die eier mengsel. Voeg vanilla by. Gooi mengsel in Tupperware houer en bere in yskas oornag. Roer mengsel. Bak in groot kolwyntjie pannetjies vir 20 minute op 180°C. Deeg kan vir 1 maand in yskas gebere word.

Rolkoek

Bestandele

  • 4 eiers
  • 1k meel
  • 1t bakpoeier
  • 1k melk
  • 1t vanilla geursel
  • 4e yskas water
  • appelkooskonfyt

Metode

Klits eiers en suiker goed saam. Voeg meel by en roer in, as ook die bakpoeier. Voeg laaste die yskas water by en vanilla. Gooi mengsel in groot plat bakplaat. Bak in oond van 200°C tot gaar. Nie te lank nie. Gooi uit op nat gesuikerde vatdoek en smeer dadelik met appelkooskonfyt. Rol dadelik. Moet nie vatdoek saam rol nie.

Ligte Vrugtekoek

Bestandele

  • 5k meelblom
  • 2k suiker
  • 5t bakpoeier
  • 2k gemengde vrugte
  • 1½k margarien
  • 1½k melk
  • 4 eiers
  • 1t geursel

Metode

Room botter, suiker en voeg eiers by, dan geursel. Voeg droë bestandele by, om die beurt met melk. Laastens vrugte. Bak 45 minute op 180°C.

Lemingtons (Ystervarkies)

Bestandele

  • 3 eiers
  • 1½k meel
  • 2e botter
  • ½k melk
  • ¾k suiker
  • 4t bakpoeier
  • 1t vanillageursel
  • Stroop

  • 1k kookwater
  • 2k suiker
  • 2e kakao

Metode

Meng al die bestandele. Bak in matige oond op 180°C. Sny in blokkies of druk af. Kook stroop vir 3 minute, laat afkoel voor gebruik. Druk koekblokkies in sjokolade stroop en dan in klapper.

Piesangbrood

Bestandele

  • ½k botter/margarien
  • 1k suiker
  • 2 eiers
  • 2k meelblom
  • 2t bakpoeier
  • 4 tot 6 piesangs
  • 1t vanieljegeursel
  • ½t sout

Metode

Klits die botter en die suiker tot dit romerig is. Voeg die vanieljegeursel by. Voeg die eiers een vir een by en klits dit goed na elke byvoeging. Sif die droë bestandele saam en voeg dit by. Druk die piesangs goed fyn met 'n vurk en voeg dit die laaste by. Meng alles goed saam en gooi dit in 'n klein broodpannetjie wat met vet gesmeer is. Bak dit 1 uur lank in 'n matige oond by 180°C. Dien dit op met botter gesmeer.

Plaatkoekies (Crumpets)

Bestandele

  • 2k meelblom
  • 2 eiers
  • 5e suiker
  • 1½e gesmelte botter
  • 4t bakpoeier
  • ½t sout
  • 1k melk

Metode

Klits die eiers en die suiker saam. Voeg ½k melk en die botter by. Sif die meelblom, die bakpoeier en die sout saam en voeg dit by die eiermengsel. Voeg die ander ½k melk geleidelik by om 'n gladde mengsel te vorm. Moet die mengsel nie roer nadat alles goed gemeng is nie. Bak dit in gesmeerde ringpannetjies of drup lepels vol op 'n warm gesmeerde stoofplaat. Bak eers aan die een kant en as dit bo-op vol lugblasies is, draai die plaatkoekies om en bak hulle aan die ander kant tot ook mooi bruin. Dien op met botter en stroop of heuning. Die resep is voldoende vir 25 tot 30 plaatkoekies.

06

Allerlei

Koekies · Souse · Lekkergoed · Ekstra

Doopbeslag vir Vis

Bestandele

  • 250ml koekmeelblom
  • 250ml water of water en melk
  • 2ml sout
  • 3ml bakpoeier

Metode

Sif die droë bestandele saam en voeg genoeg vloeistof by om 'n dun beslag te maak.

Om vis te bak: Klad die vis en besprinkel met sout en peper. Druk in 'n doopbeslag en bak in warm olie. Draai die vis slegs een maal om. Neem ongeveer 2 minute aan weerskante. Dreineer die gaar vis op absorbeerpapier. Dien baie warm op.

Monkey Gland Steak

Bestandele

  • 2e tamatiesous
  • 2e worcestersous
  • 2e asyn
  • 2e blatjang
  • fyngekapte uie

Metode

Dreineer beeshaas en braai. Verwarm die mengsel waarin die beeshaas gemarineer is en sit bo-oor die beeshaas en bedien.

Soutballetjies

Bestandele

  • 1 klein knoffelpolonie, gerasper
  • 2k meel
  • 2t bakpoeier
  • 1t sout
  • 1 eier
  • 1k melk
  • 2e olie
  • aromat en knoffel
  • suurlemoenpeper

Metode

Klits saam 1 eier, 1k melk en 2e olie. Meng met droë bestandele. Drup teelepelsvol in warm olie. Bak tot ligbruin. Haal uit en plaas op kombuispapier. Strooi aromat en knoffel oor, met suurlemoenpeper.

Souskluitjies

Bestandele

  • 3k melk
  • 2e mielieblom
  • 3 eiers
  • 3e meelblom
  • 1t sout
  • 1t bakpoeier
  • botter
  • kaneelsuiker

Metode

Kook melk. Meng ander bestandele met melk. Kook 10 minute lank. Skep lepelsvol in 'n bak. Sit botter stukkies op en gooi kaneelsuiker oor.

Broskoekies

Bestandele

  • 250g margarien
  • 250ml wit suiker
  • 5ml vanilla geursel
  • 5ml koeksoda
  • 250ml klapper
  • 500ml hawermout
  • 500ml rice krispies
  • 250ml sagte bruinsuiker
  • 2 eiers, geklop
  • 500ml meelblom, gesif
  • 1ml sout

Metode

Room margarien en suiker saam. Voeg eiers en vanilla by, klop goed. Voeg gesifte meel, koeksoda en sout by. Voeg res van bestandele by en meng goed. Plaas teelepelsvol op gesmeerde bakplaat, maar laat genoeg ruimte sodat dit kan versprei. Bak ongeveer 12 minute op 180°C. Laat afkoel.

Gekleurde Springmielies

Bestandele

  • 75ml kookwater
  • 500ml versiersuiker
  • kleursel
  • springmielies (klaar gespring)

Metode

Meng alles saam en voeg springmielies by. Meng goed. Los oop om droog te word. Bere in plastiek sakkies.

Souttert

Bestandele

  • 1k kaas
  • 1 blik soutvleis
  • 1 ui, gerasper
  • 2k melk
  • sout na smaak
  • 3 eiers
  • 1t pietersielie
  • knippie peper

Metode

Meng alles saam en bak tot gaar.

Heerlike Mosterd

Bestandele

  • 8e suiker
  • ¾k asyn
  • 6t mosterdpoeier
  • sout
  • 4 groot eiers

Metode

Plaas alles in 'n kastrol. Klits goed. Kook oor stadige hitte tot dik. Roer deeglik.

Fudge

Bestandele

  • 4k suiker
  • 1k melk
  • ¼pd botter (250g)
  • 2e stroop
  • 1 blikkie gekondenseerde melk
  • 1t vanielje geursel
  • ¾e asyn

Metode

Roer mengsel tot kook. Voeg 1 blikkie gekondenseerde melk by. Roer. Bring tot kookpunt (stoof op nr. 7). Vanwaar begin kook, roer aanhoudend vir 17 minute. Haal af. Voeg 1t vanielje geursel en ¾e asyn by. Klop baie goed. Gooi in gesmeerde pan. Sny 60 blokkies.

ONS HOOP DIE RESEPTEBOEK BRING BAIE VREUGDE!

1995

Spesiale dank aan La-Rhyn Erasmus — sonder haar kon die boek nie voltooi word nie.